EXCLUSIVE MANDATE - Gesinsvriendelike Voltitel Woning in Veilig en Gewilde Golfpark-Kompleks
Hierdie netjiese en ruim familiehuis is geleë in die gewilde Golfpark-kompleks – ’n gevestigde woonbuurt met 24-uur sekuriteit by die ingangshek, wat gemoedsrus en veiligheid bied vir jou en jou geliefdes.
Die eiendom is ‘n voltitel erf met ‘n groter tuin as die meeste huise in die kompleks (806m2 erf), en bied die perfekte balans tussen leefruimte en buiteluggenot. ’n Dubbele afdak verwelkom jou aan die voorkant van die huis, wat aansluit by ’n dubbel motorhuis met die bykomende voordeel van ’n ekstra buite toilet – ideaal vir gaste of buitewerkers.
Sodra jy die huis betree, loop jy direk die oopplan kombuis en eetkamer binne, wat gemaklik vloei na die gesellige sitkamer. Hierdie leefarea lei op sy beurt uit na ‘n privaat buite stoepie – die perfekte plek vir oggendkoffie, gesinskuier of rustige naweke saam met vriende, terwyl kinders veilig in die ruim tuin speel.
Vanuit die sitkamer lei ‘n gang jou verder deur die huis. Die eerste vertrek aan die regterkant is ‘n volledig toegeruste gastebadkamer, gevolg deur die eerste slaapkamer – ideaal vir ‘n enkelbed of as studeerkamer. Reg oorkant is ‘n tweede, ruim slaapkamer wat maklik ‘n dubbel- of koningingrootte bed kan akkommodeer. Aan die einde van die gang is die hoofslaapkamer – ‘n rustige toevlug met sy eie en-suite badkamer vir ekstra privaatheid en gerief.
Die sitkamer en slaapkamers is tans toegerus met matte, en die badkamers is in hul oorspronklike toestand waar jy kan plek maak deur die ou uit te gooi en jou eie styl nuut in te bring– perfek vir 'n koper wat waarde soek en graag hul eie styl wil inbring sonder om te oorkapitaliseer met opgraderings. Die billike prys maak dit moontlik.
Bykomende voordele sluit in ‘n JoJo-tenk met drukpomp vir ekstra watersekerheid, asook ‘n privaat tuinarea. Links van die erf is ‘n stil parkie, die bure voor kyk glad nie op die erf nie, en regs is daar ‘n strook munisipale grond en ‘n die straat – wat alles bydra tot ‘n rustige en afgesonderde leefstyl.
Golfpark is ideaal geleë – net een blok vanaf gewilde skole en sowat ses blokke vanaf ‘n nuwe en moderne inkopiesentrum. Die kompleks se sekuriteit is uitstekend, met ‘n baie billike sekuriteitsheffing van slegs R270 per maand.
Hierdie is ‘n uitstekende koop teen ‘n baie billike prys. Bring jou eie visie, pas dit aan volgens jou smaak, en verander dit in jou droomhuis – alles sonder die risiko van oor-kapitalisering.
Skakel my spoedig vir 'n besigtiging of indien jy meer inligting verlang.